Evangelieklank tussen oorlogsknalle

Evangelieklank tussen oorlogsknalle

October 14, 2020 Off By Mike

Die volgende artikel is deur Gert Pretorius van Kleinmond geskryf op grond van artikels wat prof. Retief Muller van die Universiteit Stellenbosch vir hom gestuur het.  Hierdie erfgoed het dr Retief Müller van die Kweekskool in ’n lesing by die Stellenbosse Woordfees oorgedra.  Dit word met toestemming gebruik.

Evangelieklank tussen oorlogsknalle

Mans wat met beeste en skape geboer en die grond bewerk het, moes krygsmanne word – “die Boere”. In elkeen se saalsak het ou oortuigings saamgalop. Party daarvan is deur die oorlog omgekeer. Nuwe insig, ʼn ander drif, is gebore.

Dit moes ʼn Saterdag gewees het, amper ʼn jaar in die oorlog in. September 1900. Hulle trek te perd deur die Soutpansberg – generaal Beyers en sy kommando.

Die oorlog het hulle bestaan soos ’n perdebynes omgeskop. Hulle dae was vol gevaar en stryd, sonder vastigheid, die knaging van kommer oor hulle mense op plase en in kampe deurentyd in hulle gemoed.

Boonop bedag op Kakies en gevaar, het hulle allermins verwag om in die afgeleë bosveld ’n Switserse sendingstasie raak te loop – die kontras tussen slagveld en sendingveld amper ’n asem-snak-ervaring.

Twee toewyde baanbreker-sendelinge uit Calvyn se land het die evangelie hierheen gebring. Dwarsdeur taalprobleme, malaria en lewensverlies is verhoudings gevestig, mediese sorg voorsien, naasteliefde gedeel.

Nuwe drif

Die sigbare sendingywer, asook die manier waarop hulle ontvang is, het die manne geraak. Só diep, dat Jozua Naudé, Kotie Retief en Charles Raath die volgende dag teruggegaan het om die erediens by te woon.

Vreemdelinge van ver het dié werk kom doen, terwyl hulle eie mense dit nagelaat het. Dít het hulle geruk. Skaamte en skuldgevoel het opgewel, selfs ʼn oortuiging dat die oorlog God se straf vir hulle ontrouheid was.

Soos hulle oupas en oumas voor en na die Groot Trek, was hulle voorheen agterdogtig, selfs vyandig teenoor sendingwerk. Maar ’n nuwe strewe het nou begin roer. Dié aand was hulle kommandolede ’n klankkas wat die trilling versterk het. Heinings in hulle harte het padgegee. Hulle wou begin meewerk om die lig van die evangelie na ander onder die Afrika-son te dra.

Die naklank was die stigting van die “Commando Dank Zending Vereniging”. En kommandolede se gelofte aan God: elkeen wie se lewe in die oorlog gespaar word, sal bydra tot die salaris van ’n Afrikaanse sendeling in die Soutpansberg.

Sterker klank

In argiefbronne tree twee van die drie burgers van die Beyers-kommando wat die erediens in die Soutpansberg bygewoon het, ná die oorlog weer na vore.

Ons vind vir Jozua Naudé aan die werk as ds JF Naudé, geestelike leier in ’n landbou-nedersetting waar verarmde oorlogslagoffers opgehelp is. Later ’n leiersfiguur in die NG Kerk en volkslewe. Iemand met ’n pastorie vol deernis met ander. Sy seun, vernoem na die destydse generaal, was ook ’n NG-predikant en later kampvegter vir gelyke regte vir alle Suid-Afrikaners – dr Beyers Naudé.

Tydens ballingskap op Sint Helena het ds Affie Louw se prediking Kotie Retief se sendingroeping versterk. Ná teologiese studie op Stellenbosch en in die buiteland word ds JA Retief ‘n langtermyn-sendeling in Malawi, ‘n leier wat diep spore daar getrap het. Die dag by die Switserse sendingstasie het hom bygebly, ’n baken in sy roeping.

Geloof in gevangenskap

Dit laat my afdraai na die krygsgevangenekampe.

Hoe langer die oorlog uitgerek is, hoe feller is woonhuise afgebrand en plase verwoes. Gaandeweg is meer Boerekrygers gevang, vele in ’n gehawende toestand. Omtrent 24 000 is na Sint Helena, Bermuda, Ceylon en Indië verban.

Na weke op die water in oorvol bote, en tye van seesiek wees, was dit ’n uitkoms om by dié kampe in hulle eie taal deur ’n predikant verwelkom te word.

Platgeslaan deur ontbering, knalle en bloed, en uiteindelik vernedering, het hulle nou antwoorde en ankers gesoek. Twee, selfs drie, godsdienstige byeenkomste is daagliks gehou. Onder sterlig was “Rust mijn Ziel uw God is Koning” hulle troos.

In die kamp was daar vir lank ’n stryd in sy gemoed, het Daniël du Toit later geskryf. Hy het die kerkdienste vermy – wat sou mense van hom dink? Sy ma se groetwoord toe hy oorlog toe is, dat hy “God voor oë moes hou”, het hy eenkant toe geskuif, haar briewe net bolangs gelees. Na baie weggesteekte trane en wakker lê, het hy by die Strewersvereniging aangesluit. Danksy hulle geesdrif en leiding “vond hij door den Geest des Heeren rust voor zijn gemoed”.

’n Droom op die skip was vir manskap Jacobus Bester die draaipunt. Een van ’n donker tonnel waarheen hy op pad was, en ’n predikant wat vertel van ’n nuwe wêreld waar alles mooi is. Dit het hom van God se genade oortuig. Op Bermuda, ná ’n preek van ds JR Albertyn, het hy ’n papiertjie in sy Bybel gesit waarop hy homself, as dit die Here se wil is, as ”aarbeider in Zijn wijngaard” aanbied.

Op Ceylon het ’n jong Namakwalander, eerwaarde Abraham de Klerk, in ’n korte twee jaar meer as die krygsgevangenes bereik. Sy prediking, onvermoeide werk en eenvoudige leefwyse het ’n “geweldige indruk op die samelewing gemaak”, mense in beweging gebring. Die gevolg was ’n herlewing in die noorde van Ceylon.

Soos J. Van Tonder skryf, was ballingskap vir talle krygsgevangenes hulle “geboorteplek”. Hulle het die gekruisigde Jesus ontmoet. Van hulle wou, terug in Suid-Afrika, “gaan, en mense dissipels maak” (Matt.28), “gewillig om, soos vir hulle vaderland, vir die Here te veg”.

Uitkringende klank

In die dekade voor die oorlog is die NG Kerk se eerste “buitelandse sendingstasies” in Malawi en Zimbabwe gevestig.

Dit was pioniersjare, swaarkryjare. Tye van siekte, sterftes, agterdog teenoor sendelinge, taai onderhandelings, aanvalle deur wilde diere. Steeds is die evangelie gedeel en opleiding gegee.

Om ’n sendingstasie te bedryf, was woordbedieners nodig, maar ook sendingwerkers met verskillende bekwaamhede. Lidmate in Suid-Afrika is gevra om te bid vir meer arbeiders.

God se antwoord het ná die vredesluiting in 1902 gekom: 175 oud-ballinge het aangemeld om sendingveld toe te gaan!

Planne is vinnig gemaak. Harde werk het gevolg. Die groot Drostdy-gebou op Worcester, tevore die landdroskantoor, is gekoop en as “Boere Zending School” ingerig. Met ds Affie Louw, wat die ballinge se eilandlewe en geloofspad geken het, as hoof.

Dit was ’n nog groter klankkas vir die evangelie. Met die opening was hierdie “keerpunt in die kerk se sendinggeskiedenis” vir prof PJG de Vos van die Stellenbosse Kweekskool “kennelik God se werk” – God wat van vroeg af oor en oor geroep en gestuur het.

Almal is gevra om dit dankbaar en bly te erken, om dié waarheid met hulle saam te dra. Maar óók nederig voor God te buig om die ontrouheid van vroeër te bely.

Dié Boereskool het die voorportaal van nuwe, groter sendingwerk geword. Vandag, net meer as ’n eeu later, het die kerk in Zimbabwe sowat 100 000 lidmate en dié in Malawi meer as ’n miljoen.

Toekomsprentjie

Op dié erfenispad klink die evangelie duidelik tussen oorlogsknalle. Ja, die ou boodskap uit die Soutpansberg – steeds toegedraai in deernis, gehoorsaamheid, uitreik.

Daardie Switserse sendelinge het sekerlik geweet wat ek hier gewaar: dat die evangelie ’n verdeelde verlede na ’n gedeelde toekoms kan omswaai.

Vir meer hieroor:

  • War, Exilic Pilgrimage, and Mission: South Africa’s Dutch Reformed Church in the early 20th century – lesing deur dr Retief Müller, Universiteit van Stellenbosch, Woordfees 2018
  • Ontdekkings in Midde-Afrika – JA Retief, 1951
  • Ds AF Louw op St. Helena, Briewe en Belewenisse – saamgestel deur ds Johan Louw, 1963
  • Gevangene 3271, Herinneringe van ‘n Oud-Gevangene, St. Helena – IJ Minnaar, saamgestel deur L Oberholzer, 2016
  • Abraham de Klerk van Ceylon – ds JWL Hofmeyr, 1928
  • Mission and Church in Malawi – Christoff Martin Pauw, 2016