ISRAEL EN PALESTINA: wie het die olifant aan die stert beet?
Die twee vrae wat die afgelope jaar my pad die meeste gekruis het was:
“Wie kan ek glo? Watter media bron kan ek vertrou met die waarheid?”
Die Israel/ Palestina kwessie het meeste Christene in ‘n afwaartse spiraal van verwarring en suspisie geplaas. Beide Israel en Palestynse ondersteuners haal erkende nuusbronne met ewe oortuiging aan en beide verwys na die ander bronne as vals of fop nuus. “Wie kan ek glo?” Beide kan tog seker nie reg wees nie maar beide gebruik geloofwaardige maatstawe vir waarheid.
Die fout wat meeste Christene maak is die gedagte dat een sekulêre nuusbron die volle waarheid kan bevat. Dit is of CNN of FOX News. Dit is of Al Jazeera of Jerusalem Post. Dis of die een of die ander. Wie kan ek glo?
Daardie vaste geloof dat ‘n waarheid nie veel dimensioneel kan wees nie verhinder ons om ander bronne te ondersoek wat moontlik van my oortuigings kan verskil. As ons glo waarheid behoort of aan die een en nie die ander nie, dan glo ons ook die een verklaar leuens en die ander nie. Maar dikwels word die feit dat ‘n waarheid kontrasterende komponente kan bevat, misgekyk. Die realiteit is dat waarheid nie in isolasie groei nie; dit groei in die teenwoordigheid van vele stemme. Waarheid vra nederigheid, ‘n openheid, en ‘n leersame gees.
Daar is die ou bekende gelykenis van die vier blinde mans wat dit moontlik die beste verduidelik;
Vier blinde mans vind hulle weg na ‘n olifant en word gevra om die dier te beskrywe.
Die eerste man het by die slurp gestaan. Hy het die lang, buigsame slurp vasgehou, gevoel hoe dit beweeg en kronkel, en met oortuiging verklaar: “Die olifant is soos ’n slang — glad, rond en buigbaar.”
Die tweede man het by die poot gekom. Hy het die stewige, ronde poot vasgehou, die ruwe vel gevoel en die swaar gewig besef. Hy het gesê: “Nee, jy maak beslis ‘n fout. Dit is stewig soos ’n pilaar — sterk en regop. Daar is niks glad en buigbaar hier nie”
Die derde man het die kant van die dier betas en sy hand oor die breë sy geskuif. Hy het die warm, groot oppervlak gevoel en gesê: “Dit is ’n muur — ’n groot, plat muur. Julle maak almal ‘n fout en mislei die mense”
Die vierde man het die stert gevat en gelag. Hy het die touagtige, dun struktuur gevoel en gesê: “Julle sit almal die pot mis. Dit is meer soos ’n tou. Julle inligting is beslis vals”
Die vier mans het almal met oortuiging gepraat en mekaar teëgespreek. Die een het gesê die ander lieg; die ander het gesê hy verstaan nie. Die dorpsmense het geluister en gewonder wie reg is. Elke man het sy eie ervaring gehad en sy eie waarheid verklaar — en tog het geeneen die hele dier gesien nie.
Die gelykenis is eenvoudig: Elkeen se terugvoer was waar, maar nie een het die waarheid bevat nie. Die waarheid was gesetel in die veel dimensionele terugvoer van almal saam. Nie een van die mans het doelbewus gelieg nie, maar geeneen het doelbewus by een van die ander mans gaan staan om sy “waarheid” te beleef nie.
Die gelykenis leer ons dat elke perspektief waardevol, maar onvolledig is. Elke narratief moet gesien word as ‘n dimensie van die groter prent, maar nie die prent as geheel nie. Die Israel ondersteuners se narratiewe bevat elemente van waarheid wat oordink moet word en so ook die van die Palestyne. Nie een bevat die volle waarheid nie
Net soos die vier mans elk ‘n komponent van waarheid kon deel, moet ons vier basiese perspektiewe erken en saambring. Elke dimensie dra ’n stuk van die prentjie. Daardie vier komponente is soos volg:
-
EMPIRIESE WAARHEID
Empiriese waarheid verwys na die aspek van waarheid wat gebaseer is op waarneming, meetbaarheid en toetsbare bewyse. Dit is die soort waarheid wat joernaliste, navorsers en ondersoekers soek deur data te versamel, eksperimente te doen en bevindinge te herhaal. Dit vra: “Wat kan ons meet? Wat is verifieerbaar?” Hierdie dimensie gee ons die harde feite wat ’n gemeenskaplike grond verskaf. Sy krag is objektiewe toetsbaarheid. Dit is ‘n baie belangrike komponent van waarheid maar bevat nie die volle waarheid nie. Sy beperking is dat dit gemanipuleer kan word om agendas te dryf as dit nie die innerlike betekenis of die ervaring van mense vasvang nie.
In die Israel/ Palestina oorlog is die empiriese feite meetbaar:
- Ongeveer 2,039 Israeli’s is gedood sedert 7 Oktober 2023, insluitend:
- ±1,195 tydens die Hamas‑aanval op 7 Oktober
- ±449 IDF‑soldate in Gaza‑gevegte
- Aan die Palestynse kant is tussen 73,000 – 76,000 Palestyne gedood volgens die mees aangehaalde openbare syfers. Onafhanklike, eweknie‑beoordeelde studies (bv. The Lancet Global Health) skat meer as 75,200 direkte “gewelddadige sterftes”, met duisende meer waarskynlik onder die puin of as indirekte sterftes (honger, gebrek aan medisyne, ens.).
- ’n IDF‑databasis wat in 2025 uitgelek het, het aangedui dat slegs ongeveer 8,900 van die dooies as vegters geklassifiseer is — wat beteken ongeveer 80–85% van die sterftes is burgers.
Volgens die empiriese waarheid is dit duidelik dat daar aan beide kante geweld en dood was, maar ook dat dit buite verhouding groot was in die Gaza grondgebied. Hierdie is die meetbare en verifieerbare feite. Dit is belangrik om vir ‘n ruk hier stil te staan en om die harde feite te laat insink. Maar ons kan nie hier tent opslaan nie. Ons moet aanbeweeg
-
ERVARINGSWAARHEID
Ervaringswaarheid verwys na kennis en betekenis wat direk uit iemand se eie belewenis, gevoelens en getuienis voortkom. Dit is die “eerste‑persoon” waarheid: hoe die wêreld vir jou voel, wat jy self gesien, gehoor of deurleef het. Hierdie vorm van waarheid fokus op betekenis, nie net op kwantifiseerbare feite nie. Hier praat die oorlewende, die getuie, die persoon wat die olifant raak. Ervaringswaarheid is ryk aan emosie en betekenis. Dit verduidelik hoekom iets vir iemand lewendig en dringend is. Sy krag is die diepte van menslike belewenis; sy beperking is subjektiwiteit en die gevaar van veralgemening.
- Hier luister ons na die Israeli wat ontvoer is en die lyding en foltering wat hulle moes deurmaak in hulle soeke na oorlewing. Ons sien op ons skerms die pyn van families wat iemand op daardie dag wreed aan die dood moes afstaan. Ons hoor gereeld die hartseer getuienisse van jong soldate wat selfmoord pleeg omdat die las van oorlog te swaar op hulle rus.
- Uit Gaza hoor ons ook die noodkrete van die wie se huise gebombardeer is nadat meer as 100,000+ ton plofstof op Gaza gegooi is – gelykstaande aan 6 Hirosjima kernbomme in ‘n strook van 40 kilometer lank. Die foto’s van kinders wat van die honger sterf verduidelik ook ‘n ervaringswaarheid wat nie in empiriese waarheid beskryf kan word nie
Maar ook ervaringswaarheid het sy beperkings. Dit is geldig en kragtig, maar altyd deels en konteks‑gebonde.
-
GEMEENSKAPLIKE WAARHEID
Gemeenskaplike waarheid is die gedeelde, gesosialiseerde siening van wat as waar aanvaar word binne ’n groep — dit vorm identiteit, norme en praktyke en word bevestig deur konsensus, tradisie en institusies. Dit is die verhaal wat ’n kultuur, tradisie of kerk saamhou. Dit kom uit gedeelde praktyke, rituele en historiese geheue. Gemeenskaplike waarheid gee stabiliteit en identiteit. Sy krag is samehorigheid; sy beperking is dat dit soms blind kan wees vir ongeregtighede of nuwe insigte.
- Israel maak staat op die narratief dat hulle die uitverkore volk van God is en Christene wat hierdie gemeenskaplike waarheid ondersteun hou vol dat dit elke Christen se goddelik plig is om Israel te ondersteun
- Palestynse ondersteuners verwys na Christus wat Hom altyd by die slagoffer, die onderdrukte, en die vatbare geskaar het. Hierdie gemeenskaplike waarheid noop Christene om die voorbeeld van Jesus na te volg in hierdie mense slagting en volksmoord
Gemeenskaplike waarheid is kragtig en noodsaaklik vir samewerking, maar dit is nie outomaties sinoniem met objektiewe waarheid nie. Om die volle olifant te ken, moet gemeenskapsnarratiewe met empiriese bewyse en persoonlike ervarings saamgebring en krities geëvalueer word — veral waar mag en uitsluiting ’n rol speel
-
PRAKTIESE OF PRAGMATIESE WAARHEID
Pragmatiese waarheid sê dat ’n geloof of stelling as “waar” beskou word wanneer dit prakties werk, volhoubaar is en deur navraag en ervaring bevestig word. Dit fokus op die uitkoms van geloof en die proses van ondersoek eerder as op ’n direkte korrespondensie met ’n abstrakte werklikheid. Dit vra: Wat werk? Wat bring vrug? Hierdie dimensie meet waarheid aan die uitkoms — genesing, geregtigheid, volharding. Sy krag is nut en vrug; sy beperking is dat dit nie noodwendig die morele of metafisiese diepte aanspreek nie.
Pragmatiese waarheid nooi ons tot ’n praktyk van nederige toetsing: luister na getuienisse, meet uitkomste en bly bereid om te leer. Wanneer geloof en praktyk saamwerk en volhoubare vrug dra, het ons ’n sterk aanduiding dat ons nader aan die waarheid is.
SO WAT IS WAARHEID?
’n Gemeente of samelewing wat soek na waarheid moet nie een stem bo ‘n ander bevoordeel nie. Inteendeel, dit moet ’n tafel wees waar die empirikus, die getuie, die tradisie houer en die praktikus sit en mekaar uitdaag met liefde en eerlikheid.
Waarheid is nie relativisme nie; dit is ’n proses van samekoms. Dit vra volharding, kritiese denke en medelye. Dit vra dat ons bereid is om te leer, te meet en te verander. Net so nader ons die olifant — nie deur te roep dat ons reg is nie, maar deur saam te voel, te toets en te bou totdat die prentjie duideliker word.
So, wie kan jy glo? Die een wat in al vier posisies gestaan het en die multidimensionele prent kan skilder van slurp, pote, liggaam en stert: die empirikus, die getuie, die tradisie houer en die praktikus. Glo hom!